|
|
|
Persverklaring
 PERSVERKLARING |
 |
’N MA SE HOOP (Marta se nalatenskap #1) Francine Rivers
Christelike Uitgewersmaatskappy/R149,95 Sagteband/ISBN: 978-1-77000-909-7 Beskikbaar: April 2010
|
Christelike Uitgewersmaatskappy bied aan ’n epiese verhaal wat oor twee kontinente en vier generasies strek, ’n onvergeetlike storie oor familie en geloof, drome en teleurstellings, en die volharding van liefde – ’n Ma se hoop uit die pen van immergewilde, topverkoper-outeur Francine Rivers.
In hierdie aangrypende twee-boek-sage, haar eerste vollengte roman sedert 2003, ondersoek Francine Rivers die diepte van genade en vergifnis in een van die hegste verhoudings ooit – die liefde tussen ’n ma en haar dogter.
Aan die einde van die twintigste eeu staan Marta Schneider verskeurd tussen haar ouers se opinies: haar pa glo sy sal nooit bo ’n diensmeisie-bestaan uitstyg nie; haar ma glo sy moet haar drome najaag. Vasbeslote om haar ma se hoop te vervul, verlaat Marta haar ouerhuis vir ’n beter lewe.
Jonk en alleen verdien sy haar brood as skoonmaker en kok, maar elkeen van hierdie take bring haar nader aan haar droom om eendag haar eie hotel te besit. Nadat sy hartverskeurende nuus van die huis af kry, is Marta net nog meer vasbeslote om haar droom te verwesenlik en sy verhuis na Engeland en uiteindelik na Kanada.
In Kanada ontmoet sy vir Niclas Waltert, ’n man net so vasberade soos sy om ’n beter lewe in ’n nuwe land te skep. Maar niks kan haar voorberei op die opofferings wat sy sal moet maak vir die huwelik en moederskap terwyl sy eers na die Kanadese wildernis reis en uiteindelik na die stowwerige vallei van Kalifornië nie. Marta hoop dat sy vir haar kinders ’n beter lewe sal kan gee, maar ervaring het haar geleer dat net die sterkste oorleef. Haar liefdestyl word dus dikwels misverstaan, veral deur haar oudste dogter, Hildemara Rose, wat net haar ma se aanvaarding verlang.
Te midde van die Tweede Wêreldoorlog, raak Hildie verlief en begin haar eie gesin. Maar onverwagse en tragiese gebeure dwing ma en dogter om elkeen hulle eie tekortkomings en die steeds groeiende verwydering tussen hulle in die oë te kyk voordat dit hulle vir ewig uit mekaar dryf.
’n Ma se hoop is ook beskikbaar in Engels onder die titel A Mother’s Hope (Marta’s Legacy #1).
Terug na Perverklarings
|
|
|
|
|