|
In Jesus – ’n Radikale sprong - Koninkryk, Kerk en Wêreld: waar pas ek in? nooi Stephan Joubert lesers uit om radikaal ánders oor Jesus te dink; dan sal daar ook nuut oor die kerk gedink kan word. Hy sluit Afrikaanse lesers se koppe oop met 'n vernuwende benadering en slaag daarin om buite die boks, nuut en vars oor Jesus én die kerk te dink en te skryf. Hy help lesers met sy verruimende perspektief om raak te sien dat Christene so baie van ’n kerklike kultuur gemaak het en die evangelie so aangepas het dat Christus op die agtergrond geskuif is. Hierdie boek is ’n deeglik gefundeerde wekroep dat die kerk van Christus nie noodwendig na die kerklike leierskap moet kyk vir koersaanduiding nie, maar dat individue kerk ís, presies daar waar hulle elke dag leef. Dit wil Jesus weer die swaartepunt van Christene se geloof en lewe maak – die krag wat alles bymekaarbring en betekenis en waarde aan die lewe gee. Dit is ‘n dwingende uitnodiging om anders oor die Messias te dink en op die “hakke te stap van Jesus soos wat jy Hom bes moontlik nog nie vantevore ontmoet het nie”. Stephan Joubert is as tentmakerleraar deeltyds verbind aan die Pierre van Ryneveld Gemeente, die Mosaïek Gemeente en die NG Kerk Moreletapark. Hy is die redakteur van ekerk, ‘n virtuele kerk met ‘n wêreldwye webblad-bediening. Hy is buitengewone professor in Nuwe Testament aan die Universiteit van Pretoria en ‘n navorsingsgenoot in Teologie aan die Universiteit van Nijmegen in Nederland. Stephan is ook onder meer die medevertaler van Die Boodskap, die Nuwe Testament, in hedendaagse Afrikaans. Christelike Uitgewersmaatskappy het ook die Andrew Murray-prys gewen vir: Die Bybellennium onder redakteurskap van Wil Vosloo en Fika Janse van Rensburg in 2000, Die Bybel A-Z deur Jan van der Watt (red) in 2004, en Die A-Z van Openbaring deur Jan du Rand in 2008. C H JOHNSEN Besturende Direkteur
Terug na Perverklarings
|