NLV Inleiding

Die vertaalfilosofie en metodologie wat gevolg is

Skrifgetrouheid en verstaanbaarheid is die twee pilare waarop ’n goeie Bybelvertaling berus. Dit is ook die uitgangspunt van die Nuwe Lewende Vertaling.
     In die proses van Bybelvertaling tree gewoonlik twee vertaalteorieë na vore. Eerstens is daar die “brontaalgerigte” of die “woord-vir-woord”-benadering. Volgens hierdie metode probeer die vertaler om elke woord in die brontaal in die huidige taal oor te sit en om die oorspronklike grammatika en sinsbou so noukeurig moontlik te behou.
     Die tweede benadering word die teikentaalgerigte of “dinamies-ekwivalente” metode genoem. Ten spyte van kleiner onderlinge verskille is die oorhoofse doel van hierdie vertaalteorie, wat soms ook die “gedagte-vir-gedagte”-metode genoem word, om deur betekenis en stylkeuse die boodskap van die bronteks so noukeurig moontlik in die teikentaal – in ons geval Afrikaans – weer te gee sodat dit dieselfde effek op vandag se lesers sal hê as wat die oorspronklike teks op die eerste lesers sou gehad het.
     Elkeen van hierdie twee benaderings het bepaalde voor- en nadele. ’n Brontaalgerigte benadering behou vormlike aspekte van die bronteks, soos spesifieke terme, idiome, grammatikale vorme en ritme wat aan die kundige leser ’n duideliker beeld van die eie, besondere karakter van die Bybelse geskrifte gee. Daarteenoor is ’n teikentaalgerigte metode meer lesersvriendelik: dit help die huidige leser om die bedoeling van die teks makliker te verstaan, sonder om met allerlei vreemde terme en ongewone sinsvorme te moet sukkel. Dit vergemaklik die bepaling van die boodskap, en daarbenewens kom die bedoeling van die oorspronklike teks helderder oor wanneer die Bybel in die erediens en by ander openbare byeenkomste hardop voorgelees word.
     Albei hierdie benaderings kan reg gebruik word. Albei die metodes kan egter ook té ver gevoer word. Wanneer die woord-vir-woord-benadering tot sy uiterste toe deurgevoer word, bring dit ’n vertaling mee wat in die teikentaal baie geforseerd en moeilik verstaanbaar word. Op die ander uiterste van die spektrum kry ons weer parafrases wat gekenmerk word deur ’n té hoë mate van interpretasie. Hoe meer interpretasie, hoe meer moet die vertaler tussen verskillende moontlikhede kies en hoe groter word die risiko om, selfs met die beste vakkundigheid en bedoelings, die strekking van die grondteks verkeerd weer te gee.
     In die praktyk van Bybelvertaling is daar natuurlik baie tussenposisies. Die meeste hedendaagse Bybelvertalings neem ’n redelike middelposisie in, alhoewel sommige meer na die brontaalgerigte benadering neig, terwyl ander meer teikentaalgerig is. Die verskil is dikwels ’n kwessie van graad. Op die keper beskou, bevat feitlik alle vertalings ’n kombinasie van hierdie twee benaderings.
     Die vertalers van die Nuwe Lewende Vertaling het die doel nagestreef om enersyds werklik getrou te bly aan die Skrifteks, maar andersyds om die boodskap van die grondteks op so ’n lesersvriendelike manier in keurige, eietydse Afrikaans weer te gee dat dit direk met vandag se lesers praat. Die Hebreeuse, Aramese en Griekse grondtekste word so akkuraat moontlik weergegee. Skrifgetrouheid en lesersvriendelikheid was dus die dubbele rigsnoer. Alhoewel hierdie vertaling in die praktyk teikentaalgerig is, word nie een van bogenoemde twee benaderings eksklusief gevolg nie. Met Bybelgetrouheid en lesersvriendelikheid as maatstaf is daar soepel te werk gegaan en het die vertalers hulle deur die besondere aard van ’n spesifieke Skrifdeel laat lei. As kenners van die grondtale en die antieke wêreld, moes hulle vooraf eers deurdring tot die werklike bedoeling van ’n teksgedeelte deur die bewoording, die stylvorm, die idiome, die literêre en sosiale konteks, trouens, die hele aanbieding van die grondteks te bestudeer; daarna het hulle dit in vlot, kragtige, idiomatiese Afrikaans verwoord. Wanneer ’n brontaalgerigte vertaling, soos so dikwels die geval is, die bedoeling van ’n spesifieke gedeelte in die grondteks sou verduister, misverstande kon veroorsaak of teen ons natuurlike, eietydse Afrikaanse segswyse sou indruis, is meer teikentaalgerig vertaal. Wanneer die letterlike bewoording en stylvorm van die grondteks egter ’n maklik verstaanbare en natuurlike Afrikaans toegelaat het – met behoud van die bedoeling van die grondteks – is nader aan die brontaalgerigte benadering beweeg. In sulke gevalle kon woorde, frases, stylpatrone en retoriese tegnieke van die grondteks in Afrikaans oorgeneem word omdat dit ook vir die eietydse lesers of hoorders goeie sin maak.

Die hersiening van die Nuwe Lewende Vertaling

Die NLV het in 2006 verskyn, en het hom as ’n gewilde en betroubare Bybelvertaling gevestig. Tog het ons, juis vanweë ons hoë agting vir die Bybel as die Woord van God, besluit om die teks van die vertaling opnuut na te gaan, en hierdie hersiene uitgawe die lig te laat sien. Die redakteurs van die span wat die hersiening gedoen het, was Herrie van Rooy (Ou Testament) en Fika Janse van Rensburg (Nuwe Testament), en die spanlede was Marius Nel en Pieter Venter vir die Ou Testament, en Andrie du Toit en Hermie van Zyl vir die Nuwe Testament.
     Die hersiening het plek-plek herformulerings tot gevolg. So byvoorbeeld was daar tog nog uitdrukkings wat met ’n alternatiewe vertaling die bedoeling duideliker laat blyk. Sommige voetnote is hersien en addisionele voetnote is bygevoeg om die betekenis van die teks vir die Bybelleser verder te verhelder. Paragraafopskrifte is opnuut geëvalueer en in sommige gevalle is ekstra opskrifte bygesit om groter lesersvriendelikheid te verseker. Plek-plek is ouer Afrikaanse woorde teruggebring, omdat lesersreaksie, bý hulle waardering vir die Nuwe Lewende Vertaling, laat blyk het dat sekere kernwoorde só ingeburger is, dat dit behou moet word. Nog ’n gevolg van die hersiening is dat enkele gedeeltes wat as prosa geset was, nou in digvorm gedruk is om die oorspronklike getrouer weer te gee.

Die belangrikste kenmerke van die Nuwe Lewende Vertaling

Die ideaal om getrou aan die Bybelboodskap te bly, maar die boodskap terselfdertyd so lesersvriendelik moontlik te kommunikeer, het meegebring dat verskeie moeilike hekkies oorkom moes word. Veral die verskille in taaluitdrukking en kulturele, sosiale en politieke omstandighede, het uitdagings meegebring wat die hoof gebied moes word. Probleme met die beste grondteks en alternatiewe vertaalopsies het ook van tyd tot tyd spesiale aandag vereis. Van hierdie uitdagings en probleme en die oplossings daarvoor gee ons net enkele tipiese voorbeelde – waarmee terselfdertyd die belangrikste kenmerke van hierdie nuwe vertaling duidelik word.

Poëtiese gedeeltes
Een van die besondere uitdagings waarvoor Bybelvertalers te staan kom, is om die diep en pragtige poëtiese dele van die Skrif tot hulle reg te laat kom. Daarom is moeite gedoen om hierdie dele werklik as gedigte te hanteer en hulle ritme, parallelismes, trefkrag en idiome so ver moontlik te weerspieël. Twee voorbeelde hiervan is:

JOB 19:25-27
25Maar ek, ek weet
     dat my Verlosser leef,
en dat Hy aan die einde
     op die aarde sal staan.
26Nadat my liggaam vergaan het,
     sal ek persoonlik God sien!
27Ek sal Hom self sien.
Ja, ek sal Hom sien
     met my eie oë.
Dié gedagte oorweldig my!

PSALM 1:1-3
1Gelukkig is die mens
wat nie loop
     volgens die raad
     van goddeloses,
of staan
     op die pad van sondaars,
of sit
     in die vergadering
     van spotters nie.
2Hy vind egter vreugde
     in die gebooie van die Here
en oordink sy voorskrifte
     dag en nag.
3Hy is soos ’n boom
     geplant langs waterstrome,
wat vrugte dra
     op die regte tyd.
Sy blare verwelk nie;
     in alles wat hy doen,
     is hy voorspoedig.

Die vertaling van Godsname
Die weergee van die Godsname in Afrikaans gee dikwels probleme, veral die Godsname in die Ou Testament. Wanneer die Hebreeuse benaming JHWH gebruik word, is dit vertaal as HERE.’el sˆaddaj is vertaal met die almagtige God en sjaday op sy eie as die Almagtige. ’el ‘elyōn is vertaal met God die Allerhoogste, ădōnaj met Here en yhwh şeba’ōt met die Here die Almagtige. Wat Jesus se voorkeur-selfbenaming, “die Seun van die Mens”, betref, veroorsaak dit misverstand omdat dit lyk of Jesus van iemand anders as Homself praat. Om hierdie misverstand uit te skakel, word die persoonlike voornaamwoord “Ek” bygevoeg, soos in Markus 2:10 waar die vertaling lui: Ek gaan nou vir julle bewys dat Ek, die Seun van die Mens, die gesag het om sondes op aarde te vergewe.

Mate, gewigte en geldeenhede
Aangesien die antieke mate (insluitend afstandseenhede), gewigte en geldeenhede nie sonder meer vir huidige lesers sin maak nie, is dit omgeskakel in eietydse terme. In hierdie verband is normaalweg die aanduidings van die Verwysingsbybel gevolg. In 2 Konings 5:5 lees die grondteks byvoorbeeld letterlik: 10 talente silwer en 6 000 goud. In hierdie vertaling word dit weergegee as 342 kilogram silwer en 68 kilogram goud – wat onmiddellik vir vandag se lesers sin maak. In Lukas 24:13 staan in die grondteks dat die twee Emmausgangers op pad was na ’n dorpie, 60 stadia weg van Jerusalem af, met die naam Emmaus. Die moderne leser sou hieruit geen idee kon vorm van hoe ver hierdie twee plekke van mekaar af was nie. Daarom is dit soos volg vertaal: ’n dorpie met die naam Emmaus, elf kilometer vanaf Jerusalem, en word die oorspronklike afstandsbenaming in ’n voetnoot aangedui.

Tydsaanduidings
Die antieke kalender en tydsaanduidings gee vir ons vandag ook baie probleme. Die direkte vertaling van 1 Konings 6:38 lui byvoorbeeld: in die maand Bul, die agtste maand. Ter wille van verstaanbaarheid is dit vertaal met in die middel van die herfs. Ter verdere toeligting word in ’n voetnoot gesê Dit is Oktober en November. In Matteus 14:25 word gesê dat Jesus in die vierde nagwaak na sy dissipels toe aangeloop gekom het. Hierdie tydsaanduiding, wat vir die antieke mense die paar uur tussen drie- en sesuur in die vroeë oggend aangedui het, maak vir ons vandag geen sin nie. Daarom is dit vertaal met kort voor dagbreek.

Idiomatiese uitdrukkings
Party uitdrukkings en idiome wat vir die destydse lesers in terme van hulle eie taal en kultuur sonder meer volledig verstaanbaar was, sal vir huidige lesers problematies wees of net nie meer kragtig tot hulle spreek nie. In 2 Konings 8:19 staan daar byvoorbeeld in die grondteks: om hom ’n lamp te gee vir sy seuns vir altyd. Die Nuwe Lewende Vertaling lui dat sy nageslag vir altyd op sy troon sal sit en maak onmiddellik duidelik wat die bronteks in werklikheid bedoel. In hierdie geval kon die mooi beeld van die grondteks ongelukkig nie in die teks behou word nie, maar word in die voetnoot weergegee. In Lukas 23:48 word in die grondteks gesê die skare rondom die kruis het op hulle bors geslaan. Om die leser te help om die betekenis van hierdie borsslaan-gebruik te verstaan, is dit soos volg vertaal: die skare het as teken van rou op hulle bors geslaan. In hierdie geval het ’n klein, verduidelikende invoeging die behoud van die oorspronklike uitdrukking moontlik gemaak. Die uitdrukking Voorwaar Ek sê vir julle ervaar ons vandag as argaïes. ’n Vertaling soos Ek verseker julle help die huidige leser om Jesus se bedoeling dadelik te verstaan.

Alternatiewe lesings en voetnote
Selfs met die mees gesofistikeerde taalkundige en eksegetiese apparaat is dit soms onmoontlik om met sekerheid vas te stel watter van die verskillende vertaalopsies die bronteks die beste weergee. In sulke gevalle is die vertaling wat die waarskynlikste lyk, in die teks self aangebied, en in die betrokke voetnoot is die alternatief ná ’n of aangedui. So is dit byvoorbeeld onmoontlik om by Matteus 20:18 vas te stel of die betrokke Griekse woord wil sê dat Jesus uitgelewer of dat Hy verraai sou word. In hierdie geval is uitgelewer in die teks self verkies, en verskyn verraai as alternatief in ’n voetnoot.
     Die beste grondteks is deurgaans gevolg, maar soms was dit wenslik om aan te dui waar daar in die ou manuskripte belangrike alternatiewe lesings voorkom. In so ’n geval word die deel waarvoor daar so ’n alternatief beskikbaar is, met ’n asterisk * gemerk en word die betrokke alternatief as ’n voetnoot onder aan die bladsy aangedui. ’n Voorbeeld hiervan is 1 Samuel 10:26-27:

     26Saul het teruggegaan na sy huis in Gibea. Hy was vergesel van ’n groep dapper        manne wie se harte deur God aangeraak is. 27Maar daar was ook sommige      kwaadwillige manne wat ontevrede was en gesê het: “Hoe kan hierdie man ons      red?” Hulle het hom verag en het geen geskenke vir hom gebring nie. Saul het            hom egter nie aan hulle gesteur nie.*

In die voetnoot staan daar:

     10:27 Die Dooie See-rol 4QSama voeg by: Nagas, koning van die Ammoniete, het      die Gadiete en die Rubeniete wat oos van die Jordaan gewoon het, baie wreed      onderdruk. Hy het elke Israeliet wat daar woon, se regteroog uitgesteek en het      niemand toegelaat om tot hulle redding te kom nie. Trouens, daar was nie een      van die Israeliete oos van die Jordaan wie se regteroog Nagas nie uitgesteek het      nie. Tog was daar 7 000 man wat uit die mag van die Ammoniete gevlug het en      in Jabes-Gilead gaan woon het.

Soms slaan die versnommers een oor. Dit kan die indruk skep dat daar per ongeluk ’n vers uitgeval het. Die rede hiervoor is egter dat die oorspronklike versnommering (wat eers in die Middeleeue gedoen is) nie altyd op die beste grondteksweergawe berus het nie. Omdat die beste manuskripte nie daardie vers bevat nie, word dit dus berekend weggelaat. Dit is byvoorbeeld die geval by Matteus 17:20-22, waar vers 21 ontbreek. Die asterisk aan die einde van vers 20 lei die leser na ’n voetnoot waar daar staan: “Sommige manuskripte het ook nog Maar hierdie soort duiwel gaan nie uit sonder dat julle bid en vas nie.”
     Die voetnote se bedoeling is nie net om in belangrike gevalle die letterlike bewoording van die grondteks of verskillende vertaal-alternatiewe aan te dui nie. Dit het ook ander funksies, soos om die verwysing te gee van aanhalings uit die Ou Testament wat in die Nuwe Testament voorkom. Soms verskaf die voetnote ook waardevolle verduidelikings. Wanneer ’n asterisk binne ’n sin self (dit wil sê voor die slotleesteken) voorkom, het dit net betrekking op die onmiddellik voorafgaande woord of woorde. As dit op ’n langer gedeelte of die hele voorafgaande sin of selfs sinne betrekking het, verskyn die asterisk na die slotleesteken.

Geslagsinklusiewe benadering
Een van die moeilike probleme was wanneer die grondteks manlik georiënteerde vorme gebruik. Vir die huidige leser kan dit aandui dat vroulike lesers uitgesluit word. Daar is ernstig probeer om hierdie vertaling so inklusief moontlik te maak, maar steeds met inagneming van die grondteks. Die aanspreekvorm broers wat so dikwels in die Nuwe-Testamentiese briewe voorkom, het volgens die destydse beskouing ook die vroue in die gemeente ingesluit. Daarom is hierdie aanspreekvorm met broers en susters vertaal. In baie ander gevalle was dit sonder meer duidelik dat, alhoewel manlike vorme gebruik word, dit op alle gelowiges gerig is. Met die oog hierop is die manlike enkelvoud dikwels na die meervoud oorgeskakel omdat die meervoudsvorm in Afrikaans nie geslagspesifiek is nie. In ander gevalle is broers met gelowiges of medegelowiges vertaal, aangesien dit die inklusiewe bedoeling van die teks weergee. Dit beklemtoon weereens dat ’n woord-vir-woord-vertaling dikwels die eintlike inhoud van ’n teks kan verduister, terwyl ’n teikentaalgerigte vertaling dit juis duidelik maak.

Die model van die New Living Translation is by hierdie vertaling deeglik in ag geneem. Tog berus ons vertaling op ’n selfstandige bestudering van die Hebreeuse, Aramese en Griekse grondtekste.
     Almal wat by hierdie vertaling en by die hersiening betrokke was, se opregte gebed is dat dié vertaling nie net op ’n verstaanbare, dinamiese manier met die hart van elke leser sal praat nie, maar dat die Nuwe Lewende Vertaling sy naam ook daarin gestand sal doen dat dit, deur die werking van die Heilige Gees, sal meehelp om nuwe lewe by baie te laat ontwaak, tot eer van God.

~ Die uitgewer en redakteurs