Interliniere Bybel

Die Interliniêre Bybel bied vir die Afrikaanse leser, selfs vir iemand met min of geen kennis van Grieks, op ’n unieke manier toegang tot die Griekse teks van die Nuwe Testament. Dit is só saamgestel dat dit lesers help om die vertaalproses uit die Grieks na Afrikaans te kan volg.

Die vertaalfilosofie van die Interliniêre Bybel is op twee beginsels gebou, naamlik a) getrouheid aan die Griekse grondteks (die teks soos dit deur die amptelike Bybelgenootskappe aanvaar word – die teks van Nestle-Aland, 27e uitgawe), en b) ’n direkte (letterlike) vertaalmetode van die Grieks in Afrikaans. Daarmee word gepoog om die Afrikaanse leser op ’n sinvolle en verstaanbare manier so na as moontlik aan die oorspronklike Griekse teks te bring. Die Interliniêre Bybel is so saamgestel om ook ’n leser met min of geen kennis van Grieks te help om beter insig in die vertaalproses te kry. Die Direkte Vertaling van die Interliniêre Bybel streef daarna om die betekenis van die Griekse teks op ’n letterlike wyse weer te gee met die minste ingrype in die teks, maar wil ook verstaanbaar wees en in goeie, eietydse Afrikaans. Argaïese woorde en steurende, onafrikaanse uitdrukkings word vermy.

Elke bladsy van die Interliniêre Bybel bestaan uit ’n middelblok met ’n woord-vir-woord-vertaling van die Griekse teks in Afrikaans, die Direkte Vertaling aan die linkerkant, en die 1983-vertaling aan die regterkant.

In die middelblok word gepoog om ’n “spieëlbeeld” van die Grieks weer te gee. Direk onder elke Griekse woord word ’n transkripsie van die Griekse letters in Latynse letters (wat ons in Afrikaans ook gebruik) aangebied. Dit help lesers met die uitspraak van die woord.

In die tweede reël onder elke Griekse woord word ’n vertaling van die woord (die sogenaamde woord-vir-woord-vertaling) gegee as aanduiding van sy betekenis in die betrokke vers. Daar is gepoog om elke Griekse woord individueel in sy Afrikaanse ekwivalent om te sit en, waar moontlik, in ’n ooreenstemmende woordvorm (bv. deur Griekse naamwoorde met naamwoorde te vertaal, ens.). Omdat die twee tale so verskil, moes die betekenis van ’n Griekse woord in sommige gevalle deur meer as een, of selfs ’n aantal, Afrikaanse woorde weergegee word. ’n Voorbeeld hiervan is metapempsamenos in Handelinge 20:1, wat met vyf Afrikaanse woorde (nadat hy laat haal het) weergegee word. In ander gevalle, soos met men, het die Griekse woord geen leksikale betekenis in Afrikaans nie en is daar bloot ’n strepie (–) onder die woord gesit.

Die middelkolom bied dus ’n unieke geleentheid aan die leser om die volgorde van die Griekse woorde in elke vers te sien, tesame met hul vertalings, en dit met die Direkte Vertaling te vergelyk. So kry die leser insig in die vertaalproses en word self deel daarvan. Deur die middelkolom en die Direkte Vertaling saam te gebruik, kan die leser die volle waarde uit die Interliniêre Bybel put.

In die linkerkolom word die Direkte Vertaling weergegee, wat so na as moontlik aan die oorspronklike Griekse teks bly, maar tog vir die Afrikaanse leser goeie sin maak. Daar bestaan ’n nou band tussen die woord-vir-woord-vertaling in die middelkolom en die Direkte Vertaling, veral deurdat die eerste vertaalekwivalent in die woord-vir-woord-vertaling in die Direkte Vertaling gebruik word. Dié vertaal­ekwivalent is die voorkeurinterpretasie van die woord in die betrokke vers. Die alternatiewe vertaal­ekwivalente wat soms gegee word, is ander moontlike vertalings van die woord in die betrokke konteks.

Die woord-vir-woord-vertaling word dus in die Direkte Vertaling “aanmekaargesit” sodat die Afrikaanssprekende leser dit sinvol en verstaanbaar kan lees. Aanpassings word gemaak waar ’n suiwer letterlike vertaling nie sin maak in Afrikaans nie, of verkeerd verstaan kan word.

Die hantering van idiome en kort, vaste uitdrukkings in Grieks is besonder problematies binne die konteks van die Interliniêre Bybel omdat hul betekenis dikwels nie sonder meer duidelik is uit die letterlike betekenisse van die individuele woorde nie. Die Interliniêre Bybel volg die metode om, in die geval van idiome, ’n letterlike vertaling van die individuele woorde in die woord-vir-woord-weergawe te gee, en dit dan, waar nodig, in die Direkte Vertaling aan te pas om die werklike betekenis van die idioom weer te gee.

Ons vertrou dat die Interliniêre Bybel die Afrikaanse leser sal bemagtig om nader aan die oorspronklike Griekse Nuwe Testament te kom en tegelyk ook dieper insig in die vertaalproses te kry.
 
Die Direkte Vertaling is ’n selfstandige nuwe vertaling wat ook so na as moontlik aan die Griekse taal lê. Die Interliniêre Bybel is dus geskik om saam met ander vertalings gebruik te word. Ons vertrou dat die Interliniêre Bybel ook tot ’n besonder ryk leeservaring van die Nuwe Testament sal lei.

~ Die uitgewer en redakteurs

 

Die Griekse letters en die uitspraak daarvan

Die Griekse alfabet bestaan uit 24 letters. Die uitspraak van dié letters, wat in die middelkolom van die Interliniêre Bybel direk onder elke Griekse woord in getranskribeerde vorm weergegee word, word in die volgende tabel in meer besonderhede verduidelik.

 

Medewerkers

Jan van der Watt (redakteur) – Professor in Nuwe Testament aan die Radboud Universiteit in Nijmegen, Nederland; buitengewone professor in Nuwe Testament, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom

  •    Johannes
  •    Kolossense
  •    1 Johannes
  •    2 Johannes
  •    3 Johannes

Jan Barkhuizen (redakteur) – Professor-emeritus aan die Universiteit van Pretoria, Departement Antieke Tale, en sedert 2004 navorsingsprofessor

Herman du Toit (redakteur) – Navorsingsgenoot by die Departement Nuwe Testament van die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Stellenbosch

Pieter GR de Villiers – Buitengewone professor in Nuwe Testament, Universiteit van die Vrystaat

  • Handelinge 1-19

Jan du Rand – Buitengewone professor in Nuwe Testament, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, en professor-emeritus in Nuwe Testament, Universiteit van Johannesburg

  • Markus
  • Handelinge 20-28
  • Openbaring

Fika Janse van Rensburg – Dekaan van die Fakulteit Teologie en professor in Nuwe Testament, Noordwes-Universiteit, en die Teologiese Skool van Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, Potchefstroom

  • Efesiërs
  • 1 Timoteus
  • 2 Timoteus
  • Titus
  • 1 Petrus
  • 2 Petrus
  • Judas

Gert J Steyn – Departementshoof en professor in Nuwe-Testamentiese Wetenskap, Universiteit van Pretoria, asook navorsingsgenoot aan die Kirchliche Hochschule in Wuppertal, Duitsland

  • Hebreërs
  • Jakobus

Francois Tolmie – Dekaan van die Fakulteit Teologie en professor in Nuwe Testament, Universiteit van die Vrystaat

  • Romeine
  • Galasiërs
  • Filippense
  • 1 Tessalonisense
  • 2 Tessalonisense
  • Filemon

Hermie van Zyl – Departementshoof en professor in Nuwe Testament, Universiteit van die Vrystaat

  • Matteus
  • Lukas

Wim Vergeer – Buitengewone professor in Nuwe Testament, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, en predikant van die Gereformeerde Kerk Krugersdorp

  • 1 Korintiërs
  • 2 Korintiërs